Schweitzer Fachinformationen
Wenn es um professionelles Wissen geht, ist Schweitzer Fachinformationen wegweisend. Kunden aus Recht und Beratung sowie Unternehmen, öffentliche Verwaltungen und Bibliotheken erhalten komplette Lösungen zum Beschaffen, Verwalten und Nutzen von digitalen und gedruckten Medien.
BRAAIVLEIS, RUGBY, SONSKYN EN ARMY
Vir die generasie dienspligtiges van 1979/'80 - jonk, fiks en vol drome - was die lewe opwindend en vol belofte.
In die destydse Suid-Afrika kon jy 'n blinknuwe Datsun 120Y, die gewildste ryding van daardie jaar, vir R40 000 huis toe vat en die petroltenk vir net 47c per liter volmaak. As jy jou meisie wou uitvat vir 'n "prawn special" het dit sowat R10 per kop gekos en 'n bottel cheap witwyn R4. Fliek toe na die ete? Star wars: The Empire Strikes Back was die groot internasionale treffer; hier by die huis was dit Kiepie en Kandas. Of dalk was Grensbasis 13 meer jou ding.
Vir atmosfeer tydens 'n bietjie laataand-kafoefel in jou ryding buite jou meisie se ouerhuis het jy dalk die nuwe Pink Floyd-kasset ingedruk. Die volgende oggend het jy jou gesig in jou hemp gedruk, want die hitsige reuk van haar parfuum het steeds daaraan gekleef .
Onder wit Suid-Afrikaners was daar groot afwagting oor die koms van die Britse en Ierse Leeus, want weens die internasionale sportboikot teen apartheid was daar 'n droogte aan topklasrugby. Morné du Plessis was die Bok-kaptein en soos altyd sou daar op Naas Botha se skerpskutterskoen staatgemaak word.
Gerrie "Seer Handjies" Coetzee het die oefensak hard gemoer om reg te maak vir sy tweede aanslag op die wêreld-swaargewigbokskroon, hierdie keer teen Amerika se Mike Weaver in Sun City.
Polities was dinge natuurlik aan die prut, maar weens media-sensuur was die meeste jong witmense salig onbewus van die ware omvang en aard van die binnelandse vryheidstryd. Daar was vaagweg 'n bewustheid van "onluste in die townships", maar voorstedelike borrels was meestal ongeskonde.
En min mense het geweet hoe fel die Bosoorlog in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) en die suide van Angola regtig was. Die Nasionale Party-regering en Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) het die vloei van inligting en nuus oor die oorlog streng beheer. Daar was veiligheidswetgewing in plek om die media te muilband soos nodig. Net joernaliste wat spesiale weermag-akkreditasie gehad het (wat gevolg het nadat jou doen en late eers stilletjies ondersoek is om seker te maak jy's nie dalk subversief nie), kon oor militêre sake berig - onder streng voorwaardes. Ook troepe in die operasionele gebied se briewe huis toe is gesensor en die swaard van veiligheidswetgewing is oor hul koppe gehou.
Alomteenwoordig - in die parlement, op televisie en by openbare geleenthede soos landbouskoue - was die strak gesig van eerste minister PW Botha, wat met swaaiende vinger waarsku teen die totale aanslag van kommunisme in Suider-Afrika, dat Suid-Afrika moes bly staan as die laaste bastion teen die "Rooi Gevaar". Daar was geen ware teenvoeter vir hierdie narratief nie, want daar was geen onafhanklike of buitelandse televisiekanale nie, en natuurlik geen internet of sosiale media nie. En publieke vrese oor die bedreiging van Sowjet-ondersteunde bevrydingstroepe is verder gevoed deur die bloedige Rhodesiese oorlog, wat toe al sy onvermydelike einde begin nader het.
In flieks soos Kaptein Caprivi en Aanslag Op Kariba het die terroriste altyd sleg tweede gekom. Fotoboekhelde soos Kaptein Duiwel en Grensvegter het die vyand met spraakborrelwoorde die ewigheid ingestuur.
In daardie era en teen hierdie agtergrond was diensplig net 'n normale deel van die lewe vir wit Suid-Afrikaanse seuns. Een maal per week is jy in jou kadetuniform skool toe - basies 'n kortbroekweergawe van die browns wat dienspligtiges gedra het. Jy het geweet hoe om jou baret houding te gee sodat hy windmakerig op jou kop sit, die Springbok-kenteken net bo jou linkeroog. Meneer het, geklee in die ware uniform en met offisiersrange op sy skouers, voor die swartbord gestaan.
Pouses het jy in peletons gedril. Of geskiet, want jou skool het 'n skietbaan gehad en daar was .22-gewere vir daardie doel in die stoorkamer. Op skoolkadetkampe het jy geleer kamoefleer en snags was een klomp soldate en die ander terroriste en dan moes julle mekaar voorlê en gevangene neem.
Windgat ouer broers in hul "step outs" op naweekpas was 'n algemene gesig. Skoolmeisies is aangemoedig om vir troepies op die Grens te skryf en radioversoekprogramme vir die "boys on the border" was gewild.
Dit, in 'n neutedop, was die Suid-Afrika waaruit die Smokeshell-generasie sou kom, 'n uiteenlopende groep seuns van om en by 18 jaar oud. In sommiges het die vlam van patriotisme en landsdiens hoog gebrand, vir ander was die army die eerste groot avontuur van hul jong lewens. Baie wou dit net agter die rug kry: 'n soort grootword-ritueel voor hulle met die res van hul lewens kon aangaan.
Die alternatief vir diegene met politieke of gewetensbesware teen diensplig was tronkstraf of selfopgelegde ballingskap. Organisasies soos die End Conscription Campaign het nog nie eens bestaan nie. En min het ooit daaraan gedink om die landswette te probeer ontduik wanneer hulle daai koevert met die oproepinstruksies en treinkaartjie gekry het nie. Hulle het gedoen wat hulle as hul plig gesien het, met die seën van hul ouers, onderwysers en dominees.
So was daar die bloedjong Hennie "HP" Ferreira, plaaskind van Theunissen en later Welkom in die Vrystaat, wat in sy eie woorde "nie veel gehou het van leer nie". Sy hande het egter vir niks verkeerd gestaan nie en hy het van kleins af gewoeker. In die skoolkoshuiskamer hare gesny vir geld of uitgeslip en pakkies slaptjips vir 15c elk by die Griek gaan koop, waarvoor die ouens wat blok vir eksamens dubbel betaal het. En lief vir hardloop: "Ek kon heeldag hardloop."
Eerder as om sy "praktiese matriek" te behaal het hy gekies om na sy st. 8-jaar (deesdae gr. 10) reeds army toe te gaan, "want as ek klaar is, is ek twee jaar voor die ander".
Ouens soos Gareth Rutherford, die Kalkbaaier met die siel van 'n digter wat so lief was daarvoor om sy gedagtes, emosies en waarnemings oor die lewe op papier uit te pluis.
En jong Paul Louw van Bloemfontein, uitskieter in uiteenlopende skooldinge soos rugby en koorsang, wat soos sy oorlede pa "'n graad wou kry en kommandant in die reserwemag word".
Of Marco Caforio, wat in die "uitheemse" Orange Grove in Johannesburg grootgeword het. As die seun van 'n Italiaanse immigrant was hy nie wetlik verplig om army toe te gaan nie. Maar sy pa, eienaar van 'n pizza-restaurant, het gesê: "Nee, ons werk hier, jy moet gaan."
Marco Caforio as jong dienspligtige.
Jan Hoevers, 'n boorling van Ermelo, se pad na Smokeshell was minder direk. Hy is ná skool Spoorweg toe, wat beteken het dat hy vrywaring van diensplig gehad het. Op 'n kol het hy besef dat hy met sy disleksie net vordering in die lewe sou maak indien hy sy eie baas word. Maar as hy sou ophou om vir die Spoorweg te werk, was die vrywaring ook na die maan en sou hy eers moes army toe .
So het talle ander, van alle vlakke van die wit samelewing, daardie amptelike koevert van die departement van verdediging met uiteenlopende emosies oopgemaak.
Daai lys goed wat Ma vir jou moes koop om saam te vat was 'n snaaksigheid eerder as ooglopende rede tot kommer: elektriese strykyster, badprop, 'n blik vloerpolitoer, skoenpolitoer (Kiwi dark brown, niks anders nie!), Brasso, 'n groot boks waspoeier, wasgoedpennetjies, drie klein slotte, een meter ketting (om jou wasgoed aan die draad vas te sluit sodat dit nie gesteel word nie, sou jy later by die korporaal hoor).
En dan, alte gou, die dag wanneer jy op jou tuisdorp op die troepetrein moes klim. Ma het haar trane probeer wegsteek en Pa het vir die soveelste keer vertel hoe "die army van jou 'n man gaan maak".
Jou meisie was dalk nie op die stasie nie, maar die gedagte aan daardie warm afskeidsoene van laasnag het opnuut jou maag lekker laat draai terwyl die trein wegtrek. Bloemfontein toe, waar die skreeuende korporaals van 1 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon (1 SAI) die jongste oes "rowe" ingewag het.
Maar op die trein na Bloemfontein wis jy niks van 'n ander verhaal wat besig was om in die verre Suidwes te ontvou nie. Een wat 'n drastiese en onuitwisbare invloed sou hê op die seuns wie se lang civvie-lokke binnekort op die vloer van een van die army se kam-in-die-kous-haarkappers sou val.
Die oorsprong van die Bosoorlog kan na 1966 teruggetrek word toe die gewapende vleuel van die bevrydingsbeweging Swapo (South West African People's Organisation) toenemend in Suidwes-Afrika met die Suid-Afrikaanse polisie en weermag begin bots het. Suid-Afrika het sy buurland sedert 1915 regeer, maar Swapo het vir onafhanklikheid geveg.
Die konflik het dramaties in omvang en skaal toegeneem toe die SAW Angola in 1975 klandestien binnegeval het (bekend as Operasie Savannah). Dit was nadat die voormalige Portugese kolonie onafhanklik geword het en die kommunistiese bevrydingsbeweging MPLA (Popular Movement for the Liberation of Angola) in beheer gekom het. Maar teen 1976 was Savannah verby en het die SAW uit Angola onttrek. Die MPLA het ondersteuning aan Swapo gebied en hulle toegelaat om basisse in die suide van Angola op te rig. En teen 1978/'79 het Swapo-guerrillas baie doenig geraak in die operasionele gebied van Suidwes-Afrika.
Teen 1978/'79 het Swapo-guerrillas baie doenig geraak in die operasionele gebied van Suidwes-Afrika. Die bos was hulle vriend en dekmantel. Vanuit hul bassise in Angola kon hulle te voet die...
Dateiformat: ePUBKopierschutz: Wasserzeichen-DRM (Digital Rights Management)
Systemvoraussetzungen:
Das Dateiformat ePUB ist sehr gut für Romane und Sachbücher geeignet - also für „fließenden” Text ohne komplexes Layout. Bei E-Readern oder Smartphones passt sich der Zeilen- und Seitenumbruch automatisch den kleinen Displays an. Mit Wasserzeichen-DRM wird hier ein „weicher” Kopierschutz verwendet. Daher ist technisch zwar alles möglich – sogar eine unzulässige Weitergabe. Aber an sichtbaren und unsichtbaren Stellen wird der Käufer des E-Books als Wasserzeichen hinterlegt, sodass im Falle eines Missbrauchs die Spur zurückverfolgt werden kann.
Weitere Informationen finden Sie in unserer E-Book Hilfe.