Soos David en Goliat . . . die Anglo-Zoeloeoorlog (1879)
Ek was nog op skool toe my oupa een Kersfees die boek Zulu Battle Piece: Isandlwana vir my present gegee het. Daarin het ek vir die eerste keer van die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 gelees en hoe die Zoeloekrygers in Januarie daardie jaar by Isandlwana 'n oorweldigende oorwinning oor die Britse invalsmag behaal het.
In die nasionalistiese atmosfeer waarin my geslag Afrikaners grootgeword het, was enige vyand van die Britte ons vriende en enige weermag wat die Britte laat les opsê het, ons helde. Nadat ek die boek gelees het, het die geledere van vriende en helde die Zoeloes ingesluit. Tog het daar meer as 40 jaar verloop voordat ek die eerste keer na die slagveld gery het - soos feitlik altyd vergesel deur my vrou, Elize.
Ons het 'n entjie suid van Nqutu van die R68 afgedraai en op 'n grondpad in 'n suidwestelike rigting gery. Ons kon van ver af reeds die sfinksagtige Isandlwana-koppie raaksien, wat so dikwels op Britse olieverfskilderye uitgebeeld word.
Spoedig was daar ook talle hopies witgekalkte klippe sigbaar. Ons het later verneem hierdie hopies dui aan waar daar massagrafte is van die gevalle Britse soldate, wat destyds nog in rooi baadjies geveg het.
By die ingang na die slagveldterrein het die hekwag ons meegedeel dat ons eers toegangskaartjies by die inligtingsentrum moes gaan betaal. Die sentrum was in 'n nabygeleë stowwerige dorpie. Weens die oormaat klippe en slote in die pad het ons stadige vordering daarheen gemaak. Ons moes in die dorp ook 'n ompad vind om 'n kerkgebou waar 'n begrafnisdiens aan die gang was, omdat die begrafnisgangers se voertuie een hele straat vol geparkeer was.
Die Ulundi-slagveldmonument
Toegangskaartjies gekoop en bewapen met 'n eenvoudige terreinkaart, was ons uiteindelik weer terug by die hek.
Die eerste struktuur waarop 'n mens op die slagveldterrein afkom, is die monument ter ere van Zoeloekrygers wat daar gesneuwel het. Verder is daar talle monumente vir die gevalle Britse soldate. Die standaardopskrif op hierdie monumente lui as volg: Erected to the Glory of God and in memory of those who fell fighting for Queen and Country.
Al was die Zoeloe-koninkryk die slagoffer van ongebreidelde imperialisme, word daar interessant genoeg geen melding van gemaak dat die Britse magte 'n aggressiewe aanval geloods het op 'n nasie wat hulle geensins kwaad aangedoen of hulle wêreldmag bedreig het nie.
Van Isandlwana af het ons met die grondpad deur die onherbergsame vallei van die Buffelsrivier weswaarts na Rorke's Drift koers gekies. Die pad was naastenby parallel aan die roete waarlangs 'n groep vlugtende Rooibaadjies na die destydse sendingstasie by Rorke's Drift teruggeval het.
Met ons aankoms daar het ons onder 'n bloekomboom parkeer en die somber terrein betree. Daar was weinig ander toeriste. Ons het woordeloos gestaar na die uitstallings in die ou sendinggeboutjie waar luitenant John Chard en sy 150 man die nag na die nederlaag by Isandlwana so manhaftig teen 'n doelgerigte Zoeloe-aanval weerstand gebied het.
Elf soldate wat Rorke's Drift suksesvol help verdedig het, is uiteindelik met die Victoria-kruis vir dapperheid vereer.
Al is die Zoeloekrygers se aanval op Rorke's Drift afgeslaan en het hulle heelwat ongevalle gely, word hulle eweneens by Rorke's Drift vereer. Agter die sendinggeboutjie is 'n beeldhouwerk in brons van 'n trotse luiperdmannetjie wat bo-op 'n hoop Zoeloeskilde lê. Die boodskap is duidelik: Rorke's Drift was allesbehalwe die einde van Zoeloeverset teen die Britse inval.
Van Rorke's Drift het ons verder oos gery, die hart van die landelike Zoeloeland binne. Ons volgende bestemming was die gedenkteken op die plek waar die sogenaamde Prince Imperial gesneuwel het. Prins Napoléon Eugène Louis Jean Joseph Bonaparte was die avontuurlustige - en enigste - kind van wyle keiser Napoleon III van Frankryk en sy vrou, Eugénie (in die geskiedenisboeke word hul seun ook Napoleon IV genoem). Hy het op eie versoek tydens die Anglo-Zoeloeoorlog in die Britse weermag gedien.
Napoleon IV was op 1 Junie 1879 deel van 'n Britse verkenningspatrollie wat deur Zoeloekrygers oorrompel is en hy is 16 keer met assegaaie gesteek. Terwyl ek en Elize die monumentjie op sy sterfplek bewonder, stap 'n Zoeloevrou, vergesel deur 'n klompie uitbundige kinders, met 'n besoekersboek in haar hand en 'n sekel in haar kapsel nader. Toe ek haar wil afneem, trek sy die sekel uit haar hare. Op my versoek sit sy dit gelukkig terug vir die foto.
Napoleon IV se oorskot rus in 'n kerk in Engeland, maar sy ma het later wel sy sterfplek in Suid-Afrika kom besoek. Ons het skalks gewonder of sy ook deur 'n vrou met 'n sekel in haar hare verwelkom is.
Ons het vroeër in Utrecht, ook in Kwazulu-Natal, 'n foto gaan neem van die huis van Swart Dirk Uys, waar Napoleon IV skynbaar by een van Uys se dogters gekuier het. Sou die nooi Uys werklik haar hart op die jonge Napoleon - hy was destyds 23 - verloor het? Sekerlik was daar nie 'n toekoms vir hulle verhouding nie, selfs al het hy die oorlog oorleef.
In Utrecht staan daar oorkant die straat van die Nederduitse Gereformeerde kerkgebou 'n monument vir Petrus Lafras Uys (1827-1879), 'n seun van die Voortrekkerleier met dieselfde naam en 'n kleinboet van die bekende Dirkie Uys. Hy was heel moontlik ook 'n familielid van Swart Dirk Uys.
Petrus Lafras Uys het 32 Boere aangevoer wat die Britse magte tydens die oorlog gehelp het. Hy het aan die einde van Maart 1879 in die geveg by Hlobane gesneuwel. Die Britse opperbevel het toe die monument ter ere van hom opgerig. Die wyse waarop hy dood is, herinner aan dié van sy ouboet Dirkie net meer as vier dekades tevore (Dirkie het volgens oorlewering as 15-jarige Voortrekkerkind tydens 'n geveg met die Zoeloes omgedraai om sy gewonde pa te help, maar hulle is al twee dood). Daar word vertel dat Petrus Lafras Uys 'n goeie kans op ontsnapping gehad het toe hulle onverwags deur die Zoeloes aangeval is, maar dat hy oorval is toe hy omgedraai het om sy oudste seun by te staan.
Ek en my vrou het Hlobane nooit besoek nie, maar wel die Kambula-slagveld noordwes van die latere dorp Vryheid. Dit was 'n stormagtige oggend toe ons daar was en ons het nie lank vertoef voordat ons op die spoor van die Anglo-Zoeloeoorlog na Ulundi gery het om na die slagveldmonument daar te gaan kyk het.
Hierdie indrukwekkende klipstruktuur gedenk die finale Britse oorwinning oor die Zoeloekoning Cetshwayo op 4 Julie 1879. Dit is 'n unieke gedenkteken in dié opsig dat die een vleuel die ongeveer 500 gevalle Zoeloekrygers vereer en die ander die 13 man wat aan Britse kant gesneuwel het.
Van Cetshwayo se hoofvesting is vandag niks te siene nie, omdat die Britse magte dit direk na hulle oorwinning afgebrand het. In Ulundi is daar wel 'n Zoeloemuseum wat spog met 'n standbeeld van Cetshwayo en die Tatham-kunsgalery in Pietermaritzburg huisves ook 'n groot skildery van hom in sy volle mondering. Van Ulundi is ons na Eshowe om ander Cetshwayo-gedenktekens af te neem. Daarna het ons met die R66 koers gekies kus toe, maar drie keer langs die pad gestop om monumente en slagvelde van die Anglo-Zoeloeoorlog, onder meer by Gingindlovu, Inyezane en Fort Chelmsford, af te neem.
By die N2 het ons suid gedraai na die omgewing waar die Tugelarivier in die oseaan uitmond om na die Ultimatumboom te gaan soek. Die Britse owerhede het hier hul ultimatum, wat tot die uitbreek van die oorlog gelei het, aan Cetshwayo se indoenas oorhandig. Ons het heen en weer deur suikerrietlande en oor die rivier gery, maar kon dit nie vind nie.
Tydens latere besoeke aan KwaZulu-Natal om ander monumente...