Schweitzer Fachinformationen
Wenn es um professionelles Wissen geht, ist Schweitzer Fachinformationen wegweisend. Kunden aus Recht und Beratung sowie Unternehmen, öffentliche Verwaltungen und Bibliotheken erhalten komplette Lösungen zum Beschaffen, Verwalten und Nutzen von digitalen und gedruckten Medien.
Die ongekende sukses van Afrikaner-sakelui het die afgelope drie dekades verras en verstom. 'n Aantal is vandag dollar-miljardêrs met uitgebreide internasionale belange. Die opkoms van die Afrikaner-magnaat is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging.
Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is dié mediagroep tot 'n internasionale beleggingshouergroep omvorm. Johann Rupert het Richemont as die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot die grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel in Afrika uitgebou het.
Fortuine verklap waarom alles wat sakeleiers soos Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Johan van Zyl, Douw Steyn en 'n aantal megaboere aanraak skynbaar in goud verander. Dit ondersoek ook die sensasionele ineenstorting van Steinhoff Internasionaal onder Markus Jooste, waardeur soveel welvaart uitgewis is.
'n Onthullende boek, wat hoofsaaklik op persoonlike onderhoude gebaseer is en lig werp op die werksetiek, strategiese vennootskappe en aptyt vir risiko wat hierdie groep Afrikaners die reënmakers van die ekonomie maak.
EEN VAN DIE merkwaardigste kenmerke van die oorgang in 1994 na 'n volwaardige demokrasie in Suid-Afrika toe 'n regering wat deur Afrikaners oorheers is die mag aan 'n swart bevrydingsbeweging afgestaan het, is die opkoms van Afrikaners in die sakewêreld onder 'n heeltemal nuwe bestel.
Ondanks die feit dat opeenvolgende Afrikaner-oorheerste regerings jare lank die septer geswaai het, het wit Engelssprekendes en Joodse ondernemers tevore die Suid-Afrikaanse besigheidswêreld gedomineer. Nou het 'n aantal Afrikaanssprekende sakelui in die private sektor die toon begin aangee.
Van die Afrikaners wat sedert die oorname van die Mandela-regering as sakelui begin uitblink het, het verskeie miljardêrs geword; sommige met groot internasionale ondernemings wat ver buite die landsgrense uitgestyg het. 'n Klompie tel onder die rykste mense in Suid-Afrika; hulle is opgeneem in die lyste miljardêrs, die superrykes met bates van meer as R1 000 miljoen. 'n Aantal was dollar-miljardêrs wie se name op internasionale lyste verskyn het.
Die mees fenomenale opgang is gemaak deur Koos Bekker, wat die uitvoerende hoof en naderhand voorsitter van Naspers geword het. Die eertydse mediamaatskappy, wat in 1915 gestig is om Afrikanerbelange te bevorder, is onder leiding van Bekker omvorm tot 'n internasionale beleggingshouergroep wat op e-handel en die internet gefokus is. Nadat die mynreuse Anglo American en Billiton hul hoofkantore na die buiteland verskuif het, het Naspers op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) uitgetroon, dermate dat Naspers-aandele meer as 'n vyfde van die JSE se totale markkapitalisasie uitgemaak het.
Johann Rupert, erfgenaam van die sakeryk wat deur sy vader, dr. Anton Rupert, op die universiteitsdorp Stellenbosch gestig is, het die Rupert-tradisie sterker in die buiteland uitgedra aan die stuur van Richemont, die naasgrootste groep in die internasionale mark van luukse goedere.
Twee koshuismaats van die Universiteit Stellenbosch, Christo Wiese en Whitey Basson, het as die ongekroonde konings van kleinhandel bekend geword. Die twee lewenslange vriende het Pepkor en Shoprite onderskeidelik tot Afrika se grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel uitgebou.
Jannie Mouton, wat 'n paar jaar tevore in Johannesburg deur sy vennote in 'n makelaarsfirma afgedank is, het met feitlik niks begin nie en PSG binne 'n paar jaar tot een van die grootste finansiëledienstegroepe in die land ontwikkel.
PSG het die aanvanklike finansiering verskaf vir die stigter van Capitec, Michiel le Roux, wat met sy buitengewone suksesverhaal as jong entrepreneur in die bankwese nog een van Stellenbosch se miljardêrs geword het. Capitec, wat aan duisende Suid-Afrikaners in die lae-inkomstekategorie vir die eerste keer bankdienste verskaf het, het gegroei tot die grootste bankgroep in die land wat die getal kliënte (13 miljoen) betref.
Ook in die finansiëledienstebedryf is die medestigter van Coronation Thys du Toit, wat op Stellenbosch 'n staanplek geskep het met die konsep van familiekantore wat welgestelde families se bates bestuur.
Elders in die bankwese het nog twee Afrikaners, GT Ferreira en Laurie Dippenaar, saam met Paul Harris 'n betreklike klein onderneming in Johannesburg begin en dit naderhand tot die land se grootste bankgroep, FirstRand, opgebou.
Twee Afrikaners wat albei oudleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad is, het op afsonderlike terreine van die moderne ekonomie buitengewone prestasies in die buiteland behaal.
Die fassinerende verhaal van Roelof Botha, kleinseun van Suid-Afrika se langs dienende minister van buitelandse sake, Pik Botha, strek van sy skooldae in Kaapstad tot in Silicon Valley in Kalifornië waar hy tot een van Amerika se voorste waagkapitaalbeleggers uitgestyg het. Hendrik du Toit is nog 'n Kapenaar wat in die buiteland naam gemaak het. As stigter van Investec Batebestuur het hy na Londen verhuis om daarvandaan die groep internasionaal uit te brei.
'n Pasaangeër uit die versekeringsbedryf was Sanlam se voorsitter, dr. Johan van Zyl, wat 'n noue verbintenis met Suid-Afrika se voorste swart sakeman, Patrice Motsepe, en sy African Rainbow Capital voortgesit het om ARC as 'n swaargewig in die ekonomie te vestig.
Nog 'n leier uit die versekeringsbedryf wat noue bande met 'n swart leier ontwikkel het, is Douw Steyn, 'n jukskeibreker onder die Afrikaanse sakelui. Steyn, stigter van die versekeringsreus Auto & General, het met die buitengewoon geslaagde Meerkat-reklameveldtog een van die grootste versekeringsmaatskappye in Brittanje gevestig. Die meerkat-simbool was 'n verbintenis met Suid-Afrika wat versterk is deur sy vriendskap met president Nelson Mandela, wat deur Steyn gehuisves is terwyl die ANC-leier sy outobiografie, Long Walk to Freedom, voltooi het.
Menige van die superrykes het ook bewys dat Suid-Afrika 'n land van gewers is. Een van hulle, François van Niekerk van die Mergon Groep, is in 2012 deur die tydskrif Forbes as Afrika se voorste filantroop aangewys.
Buiten die sakesektor was daar steeds ook besondere uitblinkers in landbou, een van die sektore naas mynbou en toerisme wat deur die ANC-regering as voorste werkskeppers met die oog op die toekoms beskou is.
Hoewel Suid-Afrika verreweg nie Afrika se vrugbaarste landbouland is nie, speel knap Afrikaanse boere 'n deurslaggewende rol ten einde aan die voorpunt van die vasteland se voedselketting te bly. Hulle help verseker dat voedselsekerheid in Suid-Afrika gehandhaaf word terwyl landbouprodukte ook op groot skaal uitgevoer word.
In die bedryf word na 'n aantal van hulle verwys as ultrapreneurs: megaboere wat as innoverende landbouers die modernste tegnieke gebruik om grootskaalse en volhoubare produksie te verseker. Die tiental megaboere wat in hierdie boek bespreek word, kan nie net as plaasboere beskou word nie; hulle is eerder markleiers en kreatiewe sakelui wat hul boerderye soos 'n multinasionale sakeonderneming bedryf.
Die opkoms van Afrikaners as toonaangewende figure in die sakelewe was nie net 'n eenrigtingstraat nie. Die val van een van hulle het weke lank die nuuswêreld oorheers; selfs te midde van opsienbarende onthullings oor staatskaping onder die korrupte bewind van oudpresident Jacob Zuma.
Die voorste figuur in die Steinhoff-skandaal, wat die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap geruk het, was Markus Jooste, om wie se kop 'n bedrogbom op 6 Desember 2017 gebars het. Jooste, wat ook op Stellenbosch gewoon het, het daardie dag uit die bloute weens "rekeningkundige onreëlmatighede" as uitvoerende hoof van Steinhoff International bedank. Die internasionale meubelgroep se aandeelprys het onmiddellik met meer as 90 persent tot 'n skamele R6 getuimel, naderhand tot onder R1 namate die omvang van Suid-Afrika se grootste korporatiewe skandaal wyer uitgekring het.
Die ineenstorting het miljoene Suid-Afrikaners se pensioene erg nadelig getref terwyl dit byna die fortuine van 'n hele klomp van Jooste se sakekennisse uitgewis het. Een van hulle was Christo Wiese, wat as voorsitter van Steinhoff bedank en 'n eis van R59 miljard teen die maatskappy ingestel het. Hy is voor die Steinhoff-skandaal - waardeur hy in sy eie woorde vyftig jaar van sy lewe verloor het - as die rykste man in Suid-Afrika aangewys.
Jooste is een van die sakemanne wat met die sogenaamde Stellenbosch Mafia vereenselwig is. Dis 'n benaming wat die batebestuurder David Shapiro in 2003 grappenderwys in 'n radio-onderhoud gebruik het, maar dit is mettertyd deur politici as 'n politieke skeldwoord ingespan teen 'n klompie Stellenbosse sakemanne wat in baie opsigte opmerklik met en van mekaar verskil.
Die verwysing na die "Stellenbosch Mafia" spruit daaruit dat die universiteitsdorp die standplaas van 'n geslag miljardêrs geword het. Laat in 2017 het sakefigure met intieme kennis van die dorp bereken dat daar net in Stellenbosch se omgewing tussen 30 en 35 miljardêrs woon.
Die "Mafia"-veralgemening het gepaard gegaan met 'n propagandaveldtog teen sogenaamde witmonopolie-kapitaal wat in Londen deur die gediskrediteerde skakelmaatskappy Bell Pottinger in oorleg met die Zuma-kliek in die ANC en die Gupta-staatskapers uitgedink is. Selfs nadat Bell Pottinger in skande ondergegaan het, veral weens kritiek dat hulle rasseverhoudinge in die gevoelige Suid-Afrikaanse situasie verder beduiwel het, was "witmonopolie-kapitaal" steeds 'n teiken vir rastreiterende politici en hul meelopers wat die staatskas geplunder het.
Die opkoms van Afrikaners in die private sektor sedert 1994 is onregstreeks aangehelp deur die ANC-regering se voorneme om die staatsdiens en semi-staatsondernemings geheel en al te domineer. In 1998 is hierdie hegemoniese strewe in 'n artikel in die ANC-lyfblad Umrabulo geboekstaaf: "Transformation of the state entails, first and foremost, extending the power of the National Liberation Movement over all levers of power: the army, the police, the bureaucracy, intelligence structures, the judiciary, parastatals, and agencies such as regulatory bodies, the public broadcaster, the central bank and so on."
Voor die verkiesing van 2019 het adjunkpresident David Mabuza hierdie beleid herbevestig. Hy het luidens 'n berig in die Sowetan verklaar dat daar "ander opsies" is vir diegene wat nie die ANC se nasionale en provinsiale kandidatelys - wat met die name van berugte staatskapers gespog het - gehaal het nie. Hy het verwys na 'n wye omvang van ontplooiing "sodat ons elke belangrike punt van elke...
Dateiformat: ePUBKopierschutz: Wasserzeichen-DRM (Digital Rights Management)
Systemvoraussetzungen:
Das Dateiformat ePUB ist sehr gut für Romane und Sachbücher geeignet - also für „fließenden” Text ohne komplexes Layout. Bei E-Readern oder Smartphones passt sich der Zeilen- und Seitenumbruch automatisch den kleinen Displays an. Mit Wasserzeichen-DRM wird hier ein „weicher” Kopierschutz verwendet. Daher ist technisch zwar alles möglich – sogar eine unzulässige Weitergabe. Aber an sichtbaren und unsichtbaren Stellen wird der Käufer des E-Books als Wasserzeichen hinterlegt, sodass im Falle eines Missbrauchs die Spur zurückverfolgt werden kann.
Weitere Informationen finden Sie in unserer E-Book Hilfe.